 |
 |
|
|
| Gif in visarende van Breërivier bekyk |
Die teenwoordigheid van visarende langs die Breërivier kan die navorsers 'n goeie aanduiding gee van hoe gesond die omgewing is. Kanovaardes wat jaarliks in die tweedaagse Breërivier-marathon van Roberson na Swellendam roei, kan getuig hoe skoon die rivier is. Tog het navorsers al bewyse van dodelike gifstowwe hier in visarende gekry - tekens van DDT en Dieldrin, wat al in 1980 verbied is.
Die vervaardiger van een van Suid-Afrika se voorste potketelbrandwyne, Flight of the Fish Eagle, borg nou 'n navorsingsprojek om omgewingsvriendelike boerdery in die Breëriviervallei en omliggende gebiede te bevorder.
Die Breërivier-visarendprojek word deur die roofvoël-werkgroep bestuur en sal die volgende drie jaar deur hierdie brandewynmense geldelik gesteun word. Met die navorsingprojek word 'n sistematiese besoedelingsprofiel vir die Breërivier, van sy bron tot by die mond, ontwikkel om vas te stel hoe die visarende en ander roofvoëls beïnvloed word.
Die konsentrasie van plaagdoders en die kwaliteit van die water sal langs die rivier bepaal word. Die uitslae kan tot die ontwikkeling van 'n omgewingsvriendeliker en volgehoue benadering tot landbou en waterbestuur in die rivier se opvangsgebied lei. Aangesien roofvoëls aan die bopunt in die voedselketting is, is hulle geneig tot die ophoping van giftige samestellings soos plaagdoders.
Roofdiere wat visse en voëls vreet, is veral vir chemiese besoedeling vatbaar. Die Breëriviervallei is een van die intensiefs bewerkte gebiede in die Wes-Kaap, en 'n groot verskeidenheid van plaagdoders word in wisselende hoeveelhede deur boere in die omgewing gebruik, het Andre Botha, bestuurder van die roofvoëlwerkgroep van die trust vir die bedreigende natuurlewe, gesê.
Volgens Karien van Jaarsveld, woordvoerder van Flight of the Fish Eagle, is hul ondersteuning 'n logiese uitvloeisel. Die navorsers Adam Welz en Andrew Jenkins, wat by die projek betrokke is, het onlangs met die bekendstelling daarvan op die Stellenbosse landgoed Spier beklemtoon dat dit hier nie oor die bewaring van die visarend gaan nie.
Welz het gesê die tekens van gifstowwe wat reeds by visarende gevind is, laat hulle vermoed dat dit deur die arende tot 300 km ver uit die Karoo na die Breërivier gebring is. Die gifstowwe wat deesdae gebruik word, breek binne twee of drie dae af. Daar moet nou vasgestel word hoe dit visarende raak.
Hank Chalmers van Eagle Encounters op Spier het 'n jong visarend, Neptune, wat sy een oog verloor het terwyl hy as kuiken in die nes was. Neptune sal nie in die natuur vrygelaat kan word nie, maar word gebruik om mense meer van hierdie pragtige arende te leer.
Artikel gepubliseer in Die Burger (Buite-Burger) op 19 Junie 2007
|
|
| |
|
|
Copyright 2008 © ~ Eagle Encounters.